HOME       Christelike Artikels        Christian Articles    Comment On Our Blog    SITEMAP

 

 DIE JESUS BOODSKAP            FORUM – 2/2005

 

`n Afstandsforum wat Christene oproep om weereens te besin oor die werklikheid van die  ware Jesus,

met die fokus op  Sy besondere rol in God die Vader se Verlossingsplan en  Sy unieke  werking om

die mens tot geloof en ware aanbidding  te lei

 

ONDERWERP VAN BESPREKING : DIE JESUS BOODSKAP – FEITE, FABELS, RAAISELS

 

Ek het onlangs Shorto se  kontroversiële boek : Gospel Truth gelees. Vader Edward Beutner wie betrokke was by die Jesus Seminaar slaan dit hoog aan. Dit was die resultaat van `n ondersoek van twee jaar oor die ware Jesus aan die voete van Bybelgeleerdes in Amerika en Brittanje. Afgesien van baie goeie navorsing in die algemeen en `n besondere goeie skryfstyl, is dit `n duidelike weerspieëling van die millenium-krisis waarin die Christendom hom bevind. Die Jesus wat ons leer ken het in die Bybel word ontstellend fel aangetas en mens kry die indruk dat die skrywer `n tipiese Joodse benadering handhaaf want sy kritiek wat baie beslis ook op persoonlike aannames en interpretasie berus gaan beslis nie lekker af by gelowige Christene nie. Heel verrassend verneem lesers dat `n Katolieke priester met goedkeuring van die  Vatikaan twee-derdes van die wonderwerkstories (van Jesus) verwerp (Shorto : 130). Wat baie gou deurskemer, is dat baie van die "feite" waarmee navorsers vorendag kom,  ook maar net op aanname berus maar goeie kennis van die ware Jesus en Sy evangelieboodskap is natuurlik nodig as ons enigsins objektiwiteit en geloof wil behou.  Hierdie skrywer het ook o.a. ondersoek ingestel na die algemene Amerikaanse aanbiddingstyl, dit is nou gedurende die afgelope paar dekades, en dit is ontstellend as ons sien hoe gekontamineerd die Christendom geraak het en veral nadat die Charismatiese Beweging sy verskyning gemaak het in die sewentigerjare (Amerika  `n dekade vroëer). Nou, ons behoort te besef dat daar baie goeie dinge uit hierdie Beweging voortgespruit het want verandering was in die algemeen baie duidelik broodnodig in die Liggaam van Jesus maar daar het ook baie verkeerde dinge ingesluip wat Jesus glad nie bevoordeel het  nie.  Die skrywer wys daarop dat hy `n gemeente teëgekom het wat  tot `n "Vader God en `n Moeder-God" bid, iets wat ook deesdae al sterker na vore tree in ons eie land, dit is om God tog maar die konnotasie van tweeslagtigheid  te gee.  Maar is ons bereid om die tendens van terugswaai na ou antieke gelowe enigsins raak te sien?  Ek dink as ons op hierdie trant voort sou gaan, aanbid ons een van die dae weer `n Vader-God, `n Moeder-God en dan, soos in die vrugbaarheidskultusse, `n Seun-God  uit hierdie verbintenis! Ons sal natuurlik net so aan God dink as ons Hom verpersoonlik en tot die mens se vlak reduseer!

Shorto verwys ook na `n Christelike gemeente wat  feitlik totaal-en-al verjoods het na intieme kontak met Joodse aanbidders wat weer op hulle beurt die hand gereik het vir wedersydse samewerking. Wat natuurlik altyd in die slag bly by so `n tipe vermenging, is die Christelike geloof!

 Diegene wat Shorto se boek wil lees, behoort  dan seker te maak dat hulle geloof in Jesus vasstaan – die veelbesproke

Jesus Debat  was `n refleksie van hierdie tipe benadering tot ons Christelike belydenis, en hierdie benadering is iets wat al hoe meer in hierdie Millenium sal manifesteer. 

Ek het weereens tot die besef gekom dat die Jesus Boodskap-boek baie stof tot nadenke bied juis omdat dit Christene oproep tot `n objektiewe benadering tot geloof maar wat ook terselfdertyd ons geloof in Jesus Christus vasmaak en natuurlik binne Skrifverband.  Ek sou  om hierdie rede graag Shorto se boek wou aanbeveel vir daardie tipe Christen wat nog naïef aanvaar dat alles wat die Kerk deur die eeue geleer het onbevraagtekend kan bly.  Feit is, ons het vandag met `n mediamasjien te make wat die Waarheid genadeloos onder die soeklig plaas nie alleenlik afkomstig van hiperkritiese navorsers vanuit die "poel" van Christelike gelowe nie maar ook vanuit die breë Jodendom.   Ons kan maar net op die Internet ingaan as ons wil sien watter skokkende dinge daar oor Jesus en die ou boodskap wat ons almal gehoor en gelo het kwytgeraak word (verwys veral na die Jesus Puzzle).  Dit is geen wonder dat die jeug so afvallig raak nie.  En die tyd van vermyding is vir altyd verby.  Daarom behoort ons, as ons enigsins omgee vir Jesus, onsself op gereedheidsgrondslag te plaas om kundig èn doelgerig die ware Boodskap oor Jesus ons Here, ons ondersteuning te gee.

        Ofskoon die Jesus Boodskap-boek wat vireers as grondslag van die Forum sal dien, ook tradisionele oorlewerings en  standpunte bevraagteken, soos die Triniteit, behoort ons tog ook te kan insien dat verdraagsaamheid juis aangewakker word as ons bereid is om met oop oë te kyk na wat nou eintlik met ons Christelike belydenisse gebeur het. Sodra ons besef hoe Godheidperspektiewe ontplooi het (dit is die onderbou van die Christelike geloofsbelydenis)  en watter verdeeldheid dit binne die Christendom veroorsaak het, sal ons onsself oopstel vir ondersoek en bespreking. Kerke laat gewoonlik net predikers toe wat hulle eie perspektiewe handhaaf. As `n Kerk se aftrek byvoorbeeld besig is om te taan, sal `n geroepene wat in die omtrek is en wat duidelik die salwing van God het,  nooit toegelaat word om ook te help om weer belangstelling in Jesus op te wek nie. En hierdie tendens is nie net onder die Trinitariërs aanwesig nie.  Die Christelike Unitariërs is dikwels net so onverdraagsaam wanneer salwing en roeping Godheidverklarings raak. Dit is eers as ons bemoeienis met Waarheid maak – dit is om die ware Jesus deur die heilige Skrifte te leer ken – dat ons weereens Sy werklikheid in ons lewe deelagtig sal kan word.  Dan ontbrand ware broederliefde!

Sodra ons met bevraagtekening van Jesus en die apostoliese waarheid te doene kry, sit ons gewoonlik regop!   Dan wil ons meer weet en net om meer te kan weet, weet ons outomaties dat ons meer sal moet lees. Om hierdie rede is die Jesus Boodskap-boek wel relevant.

Daar is alreeds goeie terugvoering ontvang oor hierdie kontroversiële boek. Juis omdat mense hierdie boek lees en dit al hoe meer in die toekoms sal lees, het ek besluit om `n Forum in werking te stel wat gedagtewisseling kan aanmoedig juis omdat daar  vandag soveel aannames oor Jesus is. Dit sal noodwendig belangstelling in die ware Jesus aanwakker.  Hierdie boek – veral die Gids (Deel VI)  wat op die aard van `n kort ensiklopedie opgestel is - behoort  baie handig te pas te kom vir die ondersoekende Christen wat byvoorbeeld nie net wil hoor dat die Jode vandag al hoe meer notisie neem van die Kaballa nie, maar wie graag ook sal wil weet  wat  nou eintlik met hierdie konsep bedoel word.   Om maar net te weet dat dit verborge kennis is of `n esoteriese boodskap inhou, dat dit okkulties is, is nie altyd genoegsaam nie. So, hierdie is maar een voorbeeld waarom hierdie boek nie te versmaai is nie.   Die Kabbala is eintlik die grondslag van daardie tipe kennis wat ook van toepassing is op die Illuminati – dit wat ook op die Internet opgevolg kan word en natuurlik net vir kennisname!  Hierdie Forum-boek wys ook op die gevare van hierdie tipe belydenis en natuurlik ook op sy oorsprong.  Dit is dus nodig dat ons weer by die oorsprong van ons

belydenisse, naamlik die Christelike Geloof soos wat die apostels van Jesus dit bely het, moet uitkom,  as ons enigsins wil weet wat ons eie  belydenisse behels.  En die Jesus Boodskap-boek behandel al daardie invloede wat meegeding het veral in die vroegste tye toe die grondslag van ons belydenisse gevorm was. As ons dus kennis dra van hoe die geloof wat die apostels aan ons oorgelewer het, aangepas was en ontplooi het binne `n milieu waarin afvalligheid die botoon gevier het, sal ons die aanslag wat nou teen Jesus en Sy Waarheid aankom, die hoof kan bied.   Al sou ons ook dit wat in hierdie boek bespreek word, met ons eie kennis/navorsing wil aanvul.   En dit is die doel van die Forum, naamlik om die Boodskap oor Jesus en van Jesus brandend te hou in gelowige harte.  

        In hierdie tyd van veelsydige aannames oor Jesus en Sy saak, is die terugkeer na die oorsprong van ons geloof nie iets wat ons gering behoort te skat nie. En ons behoort aangespoor te word tot goeie werke as ons besef dat net soos wat enige sportman of kunstenaar van watter aard ookal, ure opsy moet sit om hom/haar te bekwaam om net die beste te kan lewer, behoort enige Christen wat bemoeienis met Jesus wil maak, bereid te wees om hom/haarself in te span om meer en meer te wete te kom oor Hom en dit wat Hy verteenwoordig.   Ons het traag geword omdat ons juis nou in die tyd van die vyf wyse en die vyf dwase maagde lewe (Mat. 25). En ons word dikwels deur ons tradisionele oorleweringe en teologiese perspektiewe doodgebloei veral met `n sistematiese teologiese benadering wat dikwels ons geloof in Bybelwaarheid eerder kwes as om geloof by ons aan te wakker. Dit is ook nie net omdat dit so analiserend  is nie maar omdat so `n hiperkritiese benadering tot Jesus se aardse sending en die apostels se boodskap eintlik dan heeltemal gestroop is van ware Heilige Gees-ervaring! Dit wat Jesus en Paulus byvoorbeeld ryklik besit het.  Hierdie tipe benadering word juis deur Shorto se boek gestaaf (=met verwysing na sy onredelike afkraak van Jesus se gelykenisse).  

                Net soos wat Jesus die aandag gevestig het op die klippe  waarmee Herodus se Tempel gebou was – die Tempel was afgebreek en net die fondasie het basies  bly staan -   so moet ons as Christen weer aandag gee aan die basiese beginsels van ons Christelike belydenis. Ons moet onsself afvra:  Wie is daardie Jesus wat ek aanbid?  Wie is Sy Vader? (As ons dit weet sal ons Hom nooit met Allah verwar nie en ons sal ook versigtig wees om nie net na "God" te verwys sonder om Hom aan Jesus te verbind nie)   En wat veral baie belangrik is inaggenome die tyd waarin ons nou leef en sataniese werking wat  al hoe sterker na vore tree, is ons kennis van die openbaring van die Heilige Gees en veral die Geesgawes omdat die Nuwe Testamentiese Orde op die Geesgawes gebou is.  Maak die Nuwe Testament oop, en jy ontdek die Lewende Asem van God!  God is baie duidelik nie die abstrakte Wese of Entiteit wat baie van Hom maak nie.  Sy uitbeweging vanuit die Abstrakte sfeer deur Sy Seun wat vlees geword het en onder ons kom woning maak het, maak Hom juis diè Bron van Lewe.  Waarom sou Hy dan die Geesgawes net vir die apostels bedoel het? Sou dit dan nie beteken, as ons so sou redeneer, dat Jesus dan ook net vir hulle bedoel was nie? Die Jesus Boodskap-boek behoort  dan die werklikheid van die Heilige Gees in aksie aan jou te bring.  [Ek wil dit net aan u noem dat ek die Here baie vrae gevra het oor gedagtekrag (mind power) wat veral vandag sterk manifesteer en wat die Esseners definiteif ook beoefen het want dit word deur meditasie aangewakker. Ek het persoonlik ervaar dat algehele oorwinning  kom  soms moeisaam veral waar sataniese werking volgehoue beoefen word, en dat aanhoudende vaste dan selfs nodig is om bindings verbreek te kry. Nou, hierdie worstelstryd-benadering bots natuurlik  met

 

die kitsoplossing-benadering wat baie gewild is onder moderne Christene en wie geneig is om te glo dat jy net `n woord spreek en dan is die antwoord daar. (Vir daardie Christen wat glad nie aan die Geesgawes glo nie, bestaan hierdie tipe realiteit natuurlik glad nie).  Maar dit werk nie altyd so in die praktyk nie en ek praat uit dure  ondervinding. Soms gee God onmiddelik antwoord maar waar daar volgehoue kettingmeditasies aan die gang is, is die situasie moeilik veral vir diegene wat geteiken word. Die Here het my toe in `n droom die antwoord gegee nadat ek Hom gevra het om my sekere antwoorde te gee. Jesus het  my ingelig en verklaar: Talespraak meng in met hierdie tipe sataniese  gedagtegang. Ere aan Hom wat leef tot in alle ewigheid!] Daarom kan ons nooit die Geesgawes uit die Jesus Boodskap verwyder nie. Ons kan nie net op `n abstrakte Heilige Gees bestaan leun nie al bewoord ons dit ook hoe mooi. Die Waarheid-boodskap is die antwoord vir vandag!

Die Jesus Boodskap-boek is tans besig om geredigeer te word:    Ek het ook baie nuwe navorsing bygewerk en soos wat die Here my lei, wil ek graag hierdie boek vireers net aan Forum-lede beskikbaar stel juis omdat hierdie boek opvolgbespreking vereis.   Ek wil dit weereens beklemtoon dat proefeksemplare  PERSOONLIK aan Forum-lede beskikbaar gestel word vir kommentaar en deelname. Vireers is deelname beperk tot korrespondensie, Internetbesprekings, ensovoorts.   Seminare word later beoog.   Indien u in besit is van `n proefeksemplaar  en u wil nie meer by hierdie Forum betrokke wees nie, tree asseblief onverwyld met my in verbinding of stuur die boek asseblief terug.  Daar was net `n aantal kopieë gedruk. Sodoende kan boeke gekanaliseer word na belangstellendes. Posbesonderhede hierna.

Hoe moet die boek gelees word?   Daar is leemtes in die proefkopie maar omdat die boek alreeds lywig is, was sommige onderwerpe so kort moontlik aangebied.   Die geredigeerde weergawe sal nuwe navorsing, teksverbetering, ensovoorts bevat.   Ek stel voor dat u u persoonlike notas maak en as daar enige vrae is, rig dit dan aan my.  As u weet van addisionele navorsing, laat my weet. 

`n Engelse vertaling :   Daar was versoeke dat die boek liewer in Engels gedruk moet word omdat dit `n veel wyer teikengroep sal kan bedien.   Om hierdie rede dink ek sou dit beter wees om vireers net  die proefeksemplaar aan Forum-lede beskikbaar te  stel. Ek beoog om Deel I wat bykomstige navorsing bevat, wel te laat druk en te verspei sodra dit gereed is.    As u weet van iemand wat belang sou stel in hierdie tipe boek, moet asseblief nie kopieë van die proefkopie in u besit  maak nie. Laat my weet en ek sal `n kopie aan die betrokke persoon stuur. (`n Bydrae van R60 sal waardeer word vir posgeld en bylae vir `n gratis  proefkopie).

Terugvoering oor die boek : Ek het goeie terugvoering van kundige persone ontvang en daarom beveel ek die inhoud met vrymoedigheid aan. Sien dit dan asseblief  vir wat dit is want  die finale uitgawe sal die verbeterde teks bevat. Ek dink daar is min volmaakte boeke!

Diagramme ©  : Hierdie twee diagramme vat die boek se kernboodskap saam.

 

Kom ons bid vir Suid-Afrika en veral vir die behoud van die Christendom. Hierdie is `n saak wat as hoogste prioriteit beskou behoort te  word. Bid vir geestelike verdieping en `n ware Heilige Gees-belewenis want as ons Jesus in Gees en Waarheid aanbid sal Hy altyd vir ons stry en met ons wees, ook in tye van uiterste nood  (Joh. 4.24; Ps 91.1; Mat. 28.20). Daar kom definitief verdrukking  vir die Christene aan. Laat ons wakker word!

 

 KOPIEREG VOORBEHOU   http://www.christianhostingplaza.com

U kan hierdie artikel plaas op u webwerf maar ons vrae dat u so gaaf sal wees om  altyd die

 http://www.christianhostingplaza.com onder aan die artikel te laat. Ons doen inspeksies op verskeie webwerwe om te sien of

 hierdie verieste wel nagekom word . Hierdie artikel is vry .Ons nooi u om een van die dae deel te word van ons artikels

 databasis , waar n inskrywings fooi gehef word ,om  kostes te dek . Mense staan maklik n klomp geld af vir skoene klere teater

 ,sport kaartjies ens maar vergeet om aan die werk van die Here n deel af te staan .

 

 

Google